
ONS GEMEENTE
ONS ROEPING
Ons beskryf ons roeping met 4 woorde: Lig Liefde Lewe Lof.
Ons bronteks is Matteus 5:13-16: Julle is die sout vir die aarde ... Julle is die lig vir die wêreld...Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.
​
So klink dit in Hooglandleefstyltaal:
Laat Ek julle vertel wat julle werk hier op aarde is. Julle werk is om soos sout te wees: Julle is hier om vir mense ’n smaak van God self te gee, en hoe smaakvol die lewe kan wees wanneer hulle die smaak wat God aan die lewe gee, proe. Hierdie werk is nogal ernstig – want as julle nie vir die wêreld ’n smaak van God gee nie en van die lewe wat God gee nie, hoe gaan mense ’n smaak ontwikkel vir die God-kwaliteit van die lewe? As julle dit nie doen nie, is julle soos sout wat maar net in die soutpot bly en nie op die kos kom nie. Dan is julle basies onbruikbaar.
​
Ons kan dit ook anders sê: Julle is hier om te wees – om God se kaleidoskoop van kleure aan die lewe te gee, om die lewe in te kleur met die kleure van God se liefde en goedheid, om ’n prisma te wees wat die lig wat God gee, opbreek in ligstrale watmense se lewe in ’n veelheid van kleure ophelder. So help julle mense om die God-kwaliteit van hulle lewe te leef.
​
Die goeie nuus is- hierdie uitstraal van God se lig is onmoontlik om weg te steek, net soos dit onmoontlik is om die son weg te steek. Dit sou ook dom wees om dit weg te steek, net soos dit dom is om lig toe te maak met ’n handdoek of ’n kombers.
​
Daarom, kleur die lewe en kleur mense se lewens met die kleure van God se liefde en goedheid – julle kan tog nie anders nie! Dit is julle werk. So help julle mense om hulle lewe oop te maak vir God se lig en Hom te eer as Gewer van ware lig en lewe.