Dag 1
(Handelinge 18:24 – 19:7)
Kafeïenvrye koffie mag dalk vir sommige mense lekker proe, vir ander nie, maar dis ‘n goeie opsie voor slaaptyd en vir gesondheidsredes. Kafeïenvrye koffie sal jou nie wakker hou nie, dit gee nie energie nie, dit wek jou nie op nie, dis net iets om te drink. Dit ruik soos koffie, proe soos koffie, maar dit doen nie wat koffie doen binne-in jou nie, want dit is nie regte koffie nie.
Daar bestaan so ‘n soort kafeïenvrye Christenskap in ons wêreld. Ons leef ons Christenskap binne veilige grense, want om voluit Christen te wees maak ons bang – bang dat iemand jou fanaties sal noem, sal dink jy is “weird” of een te veel. So ons het ons Christenskap getimmer, die skerp hoeke afgesny, die growwe kante gladgeskuur, en dan wonder ons hoekom daar geen krag in ons Christenskap is nie. Ons leef ons Christenskap uit soos ‘n kind wat met ‘n chemiese eksperimentstelletjie speel – hulle het geen idee watter krag daar in hulle klein handjies is nie, en indien hulle sou weet, sou hulle waarskynlik nie sonder handskoene en boonop met ‘n strooihoed met daardie stelletjie gespeel het nie. Ja, as ons regtig die volle krag van ons Christenskap wil ervaar en uitleef, sal ons tien teen een kerk toe gaan met ‘n konstruksiehoed op ons kop, want die krag van God is so sterk dat ons iets nodig het om ons te beskerm.
Paulus het gepreek, gemeentes tot stand gebring. Apollos ook, hy kon mense heeltemal oortuig van sy saak, soveel so dat hulle oorweldig gevoel het daardeur. Hy het regtig goeie werk gedoen. Hy is gedoop deur Johannes die Doper – die doop van bekering – en hy het mense met daardie doop gedoop, terwyl hy mense van Jesus geleer het. Maar toe Paulus in Efese kom, was dit asof die Christene daar maar lou was. Kafeïenvry. Hulle het die teorie van Christenskap geken, maar het nie die krag gehad wat Christenskap in jou aanwakker nie.
Die doop met die Heilige Gees verander egter alles. Met Paulus se aankoms in Efese, het hy die mense daar geleer van die Heilige Gees, hy het hulle gedoop met die Heilige Gees, en skielik het daardie kerk floreer, want hulle het die krag ontvang wat die Heilige Gees in ons bewerkstellig.
Die Heilige Gees is die derde persoon in die Drie-Eenheid – die Heilige Gees is die stimulerende krag van God wat binne mense pols. Dis wat Pinkster spesiaal maak: al is Jesus weg hemel toe, stuur Hy Sy Heilige Gees, sodat Hy in elkeen van ons kan leef, elke oomblik van elke dag. En dit stel ons in staat om Jesus se kerk op aarde te wees, om Sy werk te doen, om mense van Sy goedheid en almag te leer.
Dag 2
As Christene vier ons Kersfees en Paasfees, ons kalenders is duidelik en vroegtydig gemerk met Goeie Vrydag, maar met Pinkster is ons lou – geen viering nie, ja, geen vakansiedae eers nie, inteendeel, dis ‘n tydperk wat sommige Christene skoon vergeet.
Maar dis só belangrik dat ons Pinkster verstaan en vier. Hoekom?
Tydens Paasfees is dit duidelik dat God se krag deur die graf werk, Jesus ís opgewek uit die dood, Hy lééf. Maar let so bietjie op wat met die dissipels gebeur tydens Paasfees: hulle is ontnugter. Jesus het opgestaan uit die dood en hier weet die dissipels skielik nie wat om te doen nie. Dink jou in hoe die lewe sou wees as die evangelie by Paasfees sou eindig: ‘n wêreld, ‘n lewe, sonder kerk. Ek praat nie net van die kerkgebou nie, ek praat hier van mense wat bymekaarkom en God se Woord versprei, mense met verskillende vlakke van insig wat dit met mekaar deel en op hierdie manier geestelike groei bewerkstellig.
Daarom het ons Pinkster nodig! Maar ons kies die kafeïenvrye geloof – die magtelose, flou, sonder skop, sonder oemf weergawe van geloof.
Dit is so dat die kerk ‘n besigheidsaspek het – natuurlik is daar rekeninge om te betaal en geld nodig vir uitreikprojekte, en daar is administratiewe werk om te doen, maar die kerk is nie ‘n besigheid nie. Die kerk is God se liggaam hier op aarde, en daarom doen ons dinge anders. Pinkster is die geboorte van die kerk, met Paulus se preek direk na die uitstorting van die Heilige Gees, het mense van oraloor gekom en God se Woord in hulle eie taal gehoor. Talle is daardie dag bekeer, en juis vir hierdie rede het die kerk Pinkster nodig.
Kom ons kyk na die redes hoekom ons doodeenvoudig nie sonder die Heilige gees kan leef nie:
1. Die Heilige Gees bring vertroosting en bemoediging. Moenie vir ‘n enkele oomblik dink dat dit wat enigiemand kwytraak by die dood van ‘n geliefde, die verlies van ‘n vriendskap, die mislukking van ‘n besigheid, die einde van ‘n huwelik, vertroosting sal bring nie. Nét die Heilige Gees wat ín daardie persoon is, kan dit doen. Die Heilige Gees wys ook nie grade van hartseer toe nie – enige verlies, hartseer, of pyn wat iemand ervaar, is vir Hom ewe, en nét die Heilige Gees kan ‘n gebroke hart heelmaak. In Johannes lees ons van die Parakleet – vyf aanhalings van Jesus wat die vertroostende evangelie van die Heilige Gees uiteenlê.
2. Die Heilige Gees bekeer en verander. Ons hou dalk daarvan om te dink dat ons verantwoordelik is vir iemand wat tot bekering kom, maar nee, ons is maar net die spreekbuis, die voertuig, wat God gebruik. God roep my om Sy boodskap te deel, en ek moet vertrou dat Sy Woord verandering gaan bewerkstellig. God laat dit gebeur, nie ek nie. Daarom lees ons in Mat. 12:30-32 dat sonde teen die Gees, nooit vergewe sal word nie – die Heilige Gees dwing jou nie om tot bekering te kom nie, maar deur Hom weg te wys, doen jy die grootste sonde ooit.
3. Die Heilige Gees lei. Vir ons is besluitneming ‘n moeilike taak, en daarom draai ons dikwels na God toe en bid vir leiding wanneer ons ‘n keuse moet maak, in ons persoonlike lewe, in ons gesinslewe, by die werk. Wanneer ons bid, gee God die nodige leiding, al voel dit nie altyd so nie. Maar Sy waarheid en leiding word duidelik wanneer ons bid.
4. Die Heilige Gees is bemiddelaar tussen ons en God. Die Heilige Gees sit op die troon van genade, praat met God, noem ons op ons name, en tree vir ons in. Dít is krág.
5. Die Heilige Gees bring vreugde. Opregte blydskap is anders as lekker lag. Dit is om in die oggend op te staan en net te wéét dat die wêreld nie teen jou is nie, dat almal nie daarop uit is om jou af te takel nie, dat jy gelukkig kan wees ongeag hoe sterk die wind teen jou waai.
Dag 3
Gister het ek uitgewys wat die Heilige Gees doen. Vandag wil ek twee dinge uitwys wat die Heilige Gees nie doen nie.
Mense in wie die Heilige Gees werk, raak in vervoering, maar die Heilige Gees veroorsaak nie hierdie soort ekstase bloot vir die lekker daarvan nie. Ek verwys nie hier na daardie mense wat rondhol soos besetenes op soek na die perfekte plek waar God hulle gaan aanraak nie – die Bybel waarsku immers ook teen vals profete, en vir ons huidige samelewing sluit dit mense in wat ‘n “show” opsit sodat ander hulle kan raaksien. Hierdie vertonings kom nié van die Heilige Gees af nie.
God bewerkstellig wel geloofservarings sodat ons energie kan hê om Sy werk te doen. Ek glo God gee die Heilige Gees die krag om in ons te werk sodat ons in enige omstandighede Sy evangelie kan versprei – veral daardie omstandighede waarin jy dink jy nooit sal kan opstaan en iets sê of doen nie. En dis wat ek bedoel wanneer ek sê mense met die Heilige Gees raak in vervoering – die Heilige Gees voer jou mee sodat jy heeltemal van jouself, jou eie ek vergeet, en volkome op Hom fokus. Op hierdie manier kom alle eer Hom toe.
Sonder die Heilige Gees is jy op ‘n Sondag ‘n kerkganger en aanbidder, maar in die week weet niemand van jou Christenskap nie. Daar is geen konneksie nie. Jy het jouself geleer om op ‘n Sondag te kroek – regte koffie te drink, te loof en prys soos die beste Christen onder die son, maar in die week volg jy weer jou dieet, skaal af na kafeïenvrye koffie toe, leef jou lewe van flou Christenskap, skik jou na wat aanvaarbaar vir jou “cool vriende” is.
Die Heilige Gees verdeel ook nie kerke nie en gee nie vir mense slegte houdings nie. Galasiërs 5 lys die Vrug van die Gees, en dit is die maatstaf wat ons moet gebruik om te leef. ‘n Appel is die vrug van ‘n appelboom. Liefde, vrede, geduld, goedhartigheid, nederigheid, hierdie dinge is die Vrug van die Gees, dit is die maatstaf wat jou Christenskap meet, dit is die geskenke wat God vir Sy kinders gee.
Ek dink nie dis moontlik om een keer die Heilige Gees te ontvang en dan is dit oor en verby nie. Die Gees werk konstant in jou, en jy ervaar Sy werk anders afhangend van waar jy jouself in jou lewe bevind. Toe jy jou lewe vir Jesus gegee het op 9-jarige ouderdom, het jy Hom liefgehad met alles wat jy is en wat jy geweet het. Maar nou is jy ouer, jy het ‘n hele lewe geleef tussen toe en nou. Jou vermoë om God te verstaan, het verander. Telkens op jou Christelike reis saam met God leer ken jy Hom van voor af. Telkens kom verras God jou opnuut met waartoe Hy in staat is.
Geloof is nie iets wat jy een keer kan leer en dis oor en verby nie. Geloof moet konstant ontwikkel word, opnuut ontdek word, gekweek word, en sonder die Heilige Gees wat voortdurend in ons werk, sal Christelike groei onmoontlik wees.
Dag 4
Ons het die week spandeer deur klem te lê op die belangrikheid van Pinkster en die magtige werk wat die Heilige Gees in ons doen, maar hoe kry ek hierdie Heilige Gees?
Ons ontvang die Heilige Gees wanneer ons gered is, en die doop is ‘n simbool hiervan. Maar ek dink nie ons verstaan altyd hoe geweldig belangrik die doop vir ons is nie, en dis nie maklik om dit te artikuleer nie, maar laat ek probeer.
Wanneer ons gedoop is, wikkel God Homself so diep in ons hart in, en groei saam met ons. Hy is daar wanneer dit met ons goed gaan, Hy is daar wanneer dit sleg gaan. Maar ons is so geneig om eerder met God te baklei wanneer dinge nie gebeur soos ons wil nie, eerder in ‘n oorlog met Hom gewikkel te wees oor ons nie die lewe verstaan nie. God wil só graag hê ons moet laat gaan van alles wat ‘n houvas op ons het.
As jy moeg is vir smaaklose kafeïenvrye koffie, as jy moeg is vir flou geloof, vir die illusie van geloof, maak jou hart oop vir God. Stel jouself beskikbaar, en ontvang die ware, magtige krag van die Heilige Gees!
Comments