top of page
Writer's picturehooglandsosiaal

Ons Vader (Week 2)



Gebeur dit soms met jou dat, terwyl jy bid, jou gedagtes dwaal? Jy begin opreg, gefokus, maar bekommernis neem oor en voor jy besef, is jy volstoom besig om aan ál wat negatief en sleg is te dink. Hierdie afleidings dring jou belangrikste gesprekke met God binne en daarom herinner Jesus ons: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. (v. 10).


My kinders is nog klein, en partykeer probeer ek met hulle praat, maar hulle is bésig, of so ongelukkig, moeg en oorweldig, dat ek nie hulle aandag by my kan kry nie. Dis dan wanneer ek afsak tot ek in hulle ogies kan kyk, hulle gesiggie saggies vasvat om op my te fokus, en vir hulle sê: “Kyk vir mamma, haal diep asem saam met my, kyk net vir mamma, sodat jy kan hoor wat ek sê.” Ek het hulle aandag nodig sodat hulle kan hóór wat ek sê, my liefde en kalmte kan aanvoel, en kan ons met mekaar kan konnekteer.


Ek dink dis wat God ook met ons (wil) doen. Wanneer ons so oorweldig is deur ‘n deurmekaar huis, ‘n wasbak vol skottelgoed, te veel sperdatums by die werk, te veel skoolaktiwiteite, te veel bekommernisse en afleidings, sak Hy af tot Hy ons in die oë kan kyk, vat ons gesig sagkens weerskante vas, en dwing ons om net tot stilstand te kom, diep asem te haal, Sy liefde en kalmte aan te voel, sodat ons met Hom kan konnekteer.


Hierdie vers dwing ons tot stilstand. Dit help ons om weer te fokus, ons waarheid te vind: God die Vader is my Koning, en ek is ‘n burger in Sy Koninkryk. Ek is wie Hy sê ek is. Ek is ‘n kind van God en my doel op aarde is om Sy wil uit te voer so lank as wat Hy die asem binne my is wat my laat lewe.


God dra die las van die wêreld op Sy skouers sodat ons nie hoef nie. Al wat ons moet doen, is om op hom te fokus, Hom in die oë te kyk, want dis dan wanneer die wêreldse bekommernisse verdof in die lig van Sy glorie en genade.


"Gee ons vandag ons daaglikse brood" (v. 11).


Vandag.


Hierdie gedeelte van die gebed is vir my insiggewend oor Jesus se gebruik van die woord “vandag”. Dis al wat ons het; ons is nie verseker van môre nie. Daarom help dit ook nie om vir God te vra om vir ons meer te gee nie. Gee ons net genoeg vir dit wat ons vandag nodig het.


In talle huise is dit gebruiklik om voor etes te bid, om dankie te sê vir die kos, vir wie dit voorberei het, vir die feit dat ons kos het om te eet. Maar waarom is dit vir so min mense gebruiklik om voor ander dinge te bid?


  • Bid voor jou voorlegging by die werk, jou optrede in die orkes, jou wedloop/wedstryd... Selfs hierdie soort gebede kom dikwels voor.

  • Maar wat van bid voor jy by die hek uitry? Nie net wanneer jy langpad ry nie, ook die 2 km winkel toe.

  • En gebede voor jy gaan stap, fietsry, ‘n boek lees, ‘n prent teken, swem, dans, buite by die kinders sit terwyl hulle speel, op die stoep sit en koffie drink...

  • Bid voor ek ander mense probeer inspireer met my skryfwerk?


God sê dat ons nie oor môre bekommerd moet wees nie, want vandag bring genoeg bekommernisse van sy eie (Matt. 6:34). Luister na God – vertrou Hom net om vir vandag te voorsien. Vir dit wat jy vandag nodig het, dit wat jy vandag moet doen, dit wat vandag moet klaar wees. Dit is al. Dit is genoeg. En terwyl jy op God vertrou om presies genoeg te voorsien, onthou om ook dankbaar te wees vir al die goeie gawes wat Hy gee, want “(e)lke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie” (Jak. 1:17 AFR20).


Miskien is jou daaglikse brood vandag om geliefd te voel, waardeer te voel, of miskien is dit om iemand anders genadig te wees, iemand vir jy kwaad is of wat jou te na gekom het. Miskien jou behoefte vandag fisies, emosioneel of finansieel van aard. God voorsien álles wat jy vandag nodig het, en dankie tog dat daardie voorsiening verder strek as ‘n korttermyn behoefte aan ‘n ham-en-kaasbroodjie!


"En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan" (v. 12).


Dit is 'n moeilike een, so kom ons begin met gebed:


Jesus, dankie vir U vergifnis. Dankie dat U, al was en is ek ‘n sondaar, vir my gesterf het. Dankie dat, deur U dood en vergifnis, versoening moontlik is. Help my om ook my hart oop te maak en op U roep te reageer wanneer U my aanpor om ander, en ook myself, te vergewe. Ek bid dit in U Naam, Amen.

Om te bekeer en te berou is ‘n noodsaaklike deel van ons gebedslewe. Om daardie mense te vergewe wat ons vergifnis nodig het, is net so noodsaaklik – jy kan eintlik nie die een sonder die ander een hê nie. Jesus inspireer ons om God se vergifnis te ontvang én om te vergewe. Dit hou ons gebede nederig en dit maak dit ook moontlik vir God om ons gebede te beantwoord. Omdat ons vergewe is, moet ons vergewe – dis nie ‘n genade wat ons geregtig is om te weerhou nie.


Dit is nie altyd maklik om te vergewe nie. Dit is ook iets wat ons mense soms oor ‘n tydperk doen, eers wanneer ons deur die woede en seer gewerk het, maar wanneer iemand ons vergifnis vra vir wat hulle aan ons gedoen het, verwag God dat ons, geïnspireer deur Jesus se voorbeeld, vergewe. Dis egter ook waar wanneer ons vir vergifnis moet vra. Matteus 5:23-24 sê immers: “En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe” (AFR20).


Hierdie gedeelte van die Onse Vader skep vandag geleentheid vir elkeen van ons om by God te gaan kniel en te vra of daar areas in ons lewens is waarheen ons moet terugkeer, skoonmaak, opruim, vergifnis vra, vergewe, vrede herstel, veroordeling laat gaan. Die waarheid is moeilik en onsmaaklik, maar om aan God se vergifnis vas te hou terwyl jy nie vergewensgesind teenoor ander is nie, werk ook nie. Onvergewensgesindheid verhinder en dwarsboom ons gebede. Ontvang dus vandag die vryheid van iemand vergewe, bemagtig deur wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page