top of page
Writer's picturehooglandsosiaal

Ons Vader (Week 1)

Updated: Jul 17



In Matteus 6 gee Jesus ons leiding oor hoe om met God te praat en hoe om na Hom te luister. ‘n Gedeelte van Sy bergrede is welbekend – almal ken die Onse Vader. Maar die gedeelte voor dit, is minder bekend, want dit kom met ‘n paar waarskuwings:

“En wanneer julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid, sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang”(v. 5 AFR20).


Soms wanneer ons tussen medegelowiges is, by Bybelstudie, selgroep, kategese, is ons nie volkome teenwoordig nie, want ons is so bewus van onsself, wat ons sê, hoe ons lyk, dat ons vergeet om te fokus op God. Ons is besig om te dink wat ons gaan bid wanneer dit ons beurt is. Ons wil hê dit moet mooi klink, hoog klink, gelowig klink, teologies klink. In daardie oomblikke is ons eerder gefokus op selftrots. Maar God maak dit duidelik:

“Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon [...] moe(nie) soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra" (v. 6-8 AFR20).


Wanneer ons lees dat God ons na ons binneste kamer toe stuur, dink ons dalk aan ons slaapkamer, aantrekkamer, kantoor, maar dis nie eintlik wat God bedoel nie. In die Bybelse tye, in die plaasdorpies en vissersgemeenskappe, was daar nie juis private kamers wat toegewys is as slaapkamers of werkkamers nie; inteendeel, in meeste van die huise was die enigste vertrek wat regtig ‘n deur gehad het, die stoorkamer – ‘n “nederige” kamer. Dít is waarheen Jesus ons stuur: ‘n plek waar ons in nederigheid voor Hom kniel en tot Hom, ‘n God wat ons nie kan sien nie, bid, sodat Hy Homself aan ons kan openbaar as ons liefdevolle hemelse Vader.

So bid vandag tot God, nader tot Hom in stille, nederige gebed. Hy weet reeds wat ons nodig het, en al sukkel ons soms met die stilte waarmee ons versoeke beantwoord word, wil God steeds hê ons moet dit met Hom deel.


Ons sukkel met hierdie “geheime” kommunikasie met God, want wanneer ons bid, verwag ons iets moet gebeur, en as niks gebeur nie, aanvaar ons dat niks verander nie. Jesus verstaan dit, want Hy sê: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word. Moenie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra” (v. 7-8 AFR20).


“Effektiewe” gebed word nie gemeet aan die hoeveelheid woorde wat jy gebruik nie. Jy hoef ook nie indrukwekkende woorde te gebruik nie, want God weet reeds wat jy nodig het en selfs wanneer jy dit nie kan sien nie, werk Hy in jou guns.


Na hierdie waarskuwings, gee Jesus vir ons die woorde: “Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (v. 9-13 AFR20).


Jesus se bedoeling is nie dat hierdie die enigste korrekte manier is om te bid nie, anders sou Hy nie ander gebede ingesluit het soos die een in Johannes 15-17, of die hartseer een in Lukas 22:42 “Vader, as U wil, neem hierdie beker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied” (AFR20) nie.

Hierdie gebed is ‘n uitnodiging om met God te konnekteer.


Vandag, wanneer jy bid, in jou eie unieke, perfekte, gebroke woorde, vertrou volkome dat God jou gebed hoor. Hy het jou reeds na Hom toe genooi en Hy wag om jóú woorde in jou eie tyd aan te hoor. Nooi Hom in!


“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”

In die antieke wêreld is die hemele in drie verdeel – die terrasfeer, die atmosfeer, en alles daarna wat verder uitstrek in die ruimte in.


Wanneer Jesus sê “ons Vader wat in die hemel is”, probeer Hy vir ons bevestig dat God nie ver is nie, maar dat Hy in die hemele is wat rondom ons is en dus altyd naby ons is. Hy is so naby aan ons soos ons asem, en my gebed is dat ek, en julle, al hoe meer bewus word van Sy nabyheid, net soos Hy dikwels belowe. Al voel dit asof God stil of afwesig is, herinner Jesus ons daaraan dat Hy altyd naby, bý, ons is. Hy antwoord altyd ons gebede – “want julle Vader weet wat julle nodig het nog voordat julle Hom vra” (v. 8 AFR20).


God is nie ver nie; Hy sien jou, Hy hoor jou, Hy is verskriklik baie lief vir jou, en Hy wil elke dag met jou ‘n ontmoeting hê. As dit vir jou voel dat God te stil is, of vir ’n lang tyd stil was, praat met Hom, vra Hom om met jou te praat – en luister, want te veel kere vra ons om te hoor, maar dan luister ons nie. Luister met jou kop, maar luister ook met jou hart, en berei jouself voor om tevrede te wees met die antwoord wat jy ontvang.

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page