Die lewe kan ‘n mens nogal moedeloos laat voel. Dit voel soms asof daar net altyd nog iets is wat nie reg is nie – dinge by die werk wat nie in plek val nie, skoolprogramme wat vol is en vol bly, begrotings wat net nooit wil klop nie, selfs al gebeur niks onvoorsiens nie, en nou, griep in die herfs – met ‘n hele lang winter wat nog voorlê.
Gelukkig is dit nie net die lewe wat die heeltyd “meer gee” nie. Ons het God aan ons kant, en Hy belowe meer. Eintlik belowe God nie net dat daar meer is nie, soms gee Hy eintlik iets heeltemal anders. Ons moet glo dat God se hulpbronne nog nie uitgeput is nie – by Hom is daar eindelose hoop, geluk, drome. Matteus 6:33 sê immers: “Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”
Die kruis is God se plus-teken: Jesus het álles opgeoffer sodat ons meer kan hê: meer vrede, meer vreugde, miskien meer dae in ons lewe, maar bowenal, meer lewe in ons dae.
Jesus bevestig in Sy Woord: “Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,” (Ef. 3:20). Die New Living Translation sê dit vir my ‘n bietjie mooier: “Now all glory to God, who is able, through his mighty power at work within us, to accomplish infinitely more than we might ask or think.”
God wil vir ons meer doen en meer gee in die lewe as nét dit wat ons nodig het. Hy wil ons bemoedig en toerus, en ons lewe so vol van Hom maak, vol van Sy liefde, Sy lewe. Dis Sy nalatenskap aan ons, en Hy gee dit nou al reeds vir ons: “... omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak” (Gal. 4:6-7).
Alles wat jy nodig het, behoort aan God, en al wat ons moet doen, is om God se wil, Sy koninkryk, Sy regverdigheid op te soek en alle eer aan Hom te gee.
Comments